Members' Stories

Stappers “Kleinswartberg-traverse” 2015 binne

Die fynbos is ruig en sopnat. Hier en daar verraai ‘n gebreekte tak dat iemand al vantevore deur dié krapperige boskasie gesukkel het. Dit is die eerste dag van ons staptog van 56 km, van Oos na Wes, oor die Kleinswartberg reeks.

Aan ons Suidekant lê Ladismith, en 103 kilometer verder, die Indiese Oseaan.

Die Kleinswartberg-traverse begin aan die voet van die Seweweekspoortberg en volg ‘n noordelike rigting, parallel met die Seweweekspoortpad, tot op die kruin. Vandaar swenk die roete wes verby die pieke Steenslang, Peak Wood en Toringberg, ook bekend as Elandspiek, totdat dit Towerkop bereik. Laastens loop dit Suid na die plaas Buffelskloof.

Die Kleinswartberge en die Grootswartberge vorm eintlik een reeks van sowat 200 kilometer in lengte, en strek rofweg vanaf Ladismith in die Wes-Kaap tot by Willowmore in die Oos-Kaap. Suid van die berge lê Cannaland, en Noord, die droë en yl landskap van Die Koup.

Dag 1: ‘n Oorgroeide en halfgeboude Jeep-track kronkel met wye draaie teen die hange van Seweweekspoortberg uit. Daar waar die Land Cruiser begin huiwer word ons afgelaai en na ‘n uur en ‘n half se stap bereik ons ‘n vierkantige sink-skuiling wat met plat klippe bestapel is tot aan sy dak, hier skep ons eers asem.

Om ons is vele soorte heide en ander fynbos in blom - helder rooi, oranje, room-groen, donker pienk, te veel om op te noem. Oorkant die vallei sien mens die golwende lyne en fantastiese vou-formasies wat so eiesoortig aan die Kaapse berge is.

Ons gaan voort op ‘n voetpad wat sig-sag teen die hang uit en uiteindelik breek ons oor die rant. Ver onder ons is die Seweweekspoortpad plek-plek sigbaar. Ons stap soms op die rug en soms onder die kranslyn. Uiteindelik verklap ‘n reuse rotsblok wat skuins teen die kranswand lê dat die grot naby is. Nog 'n ent en ons is dankbaar om die rugsakke af te kan haal.

Dag 2: ‘n Smal en steil klofie loop uit op ‘n plato, gevolg deur ‘n helling gepak met ‘n klipveld van groot grys brokstukke ook bekend as talus wat oor 180 meter strek. Dit raak al steiler – naderhand moet ons behoorlik klouter. By tye bied ‘n skeur of ‘n klofie ‘n deurgang op plekke wat op ‘n afstand heel onbegaanbaar lyk.

Dis moeilik om te glo dat mens byna drie uur kan stap aan 600 meter. Uiteindelik staan ons op Seweweekspoortpiek, die hoogste punt in die Wes-Kaap – 2325m bo seevlak.

André bestudeer die kaart. Ons het nog ver om te stap vir die dag.

Ongeveer 2 uur later verlaat twee van ons makkers die groep. Nico het sy knie beseer en hy verkeer in aansienlik pyn. Francois sal saam met hom afgaan.

Ons neem afskeid en vorder fluks verby Steenslangpiek. Iewers het ons egter oor die rug gestap en aan die Suidekant beland. ‘n Onskuldige riffie aan die regterkant word kort-voor-lank ‘n formidabele krans. André lyk bekommerd. Ons moet iewers weer deurbreek na die Noordekant toe. Hy loop op ‘n smal lys langs met ‘n 15 meter afgrond aan sy linkerkant terwyl die res van ons effe angstig sit en toekyk. Hy skuifel terug. “Nee die lys loop ook in kranse vas. Ons sal nie daarlangs kan oor gaan nie.” Die groep lyk kenlik verlig.

Dit beteken egter ‘n harde stap onder die kranse om en dit begin donker word. Boonop is ons water byna gedaan. Daar is maar net een verstandige ding om te doen: ons kamp 50 meter laer af en stap more in goeie lig verder.

Dag 3: Dis mistig maar die gees in die groep is weer beter. Ons stap verder Wes. Die kranse aan ons regterkant word kleiner en verdwyn heeltemal nadat ons teen ‘n skotige opdraand uit is. Die mis lig. Die hemel is helder en blou. Vêr onder sien ons plaasdamme soos spatsels water anderkant die R323.

Ons vorder verby Peak Wood-piek tot aan die bopunt van ‘n klofie. Drie vrywilligers bied aan om onder in die kloof te gaan water haal. Twee rugsakke word vol leë waterbottels gestop en die drie draf-stap sowat 300 meter in die klofie af.

Die middag breek aan, baie warm, en daar lê nog ‘n lang stap voor. Ons mik om in die berugte grot middagete te geniet, maar tevergeefs. Later kry ons vir ons koelte tussen rotsblokke en kransies en vat 'n middagetebreek.

Die oppervlak is nou skuins en klipperig en ons vorder maar stadig. Elke nou en dan koop iemand in die groep vir hom ‘n stukkie grond, gelukkig sonder nagevolge. Boonop moet ons kort-kort teen rotswande afklouter om aan hulle onderkant langs ‘n beter begaanbare pad te vind.

Uiteindelik kry ons die grot in sig en ‘n halfuur later lê ons uitgestrek op lowergroen gras in Sculls Cave se bek. Dis ‘n simmetriese grot met ‘n hoë dak. In die grot se vloer is ‘n gat met helder koel water. Sculls Cave is beslis een van die juwele van die traverse.

Ons stap aan. Byna drie uur later bereik ons, ons derde oornag plek tussen rotse wat gedeeltelike skuiling teen die wind bied. Dié oornagplek is sowat 2010 meter bo seevlak met Toringberg feitlik reg Suid van ons.

Dag 4: Vandag is dit die 31ste Desember. Dis mistig en ons loop eers ‘n paar minute in die verkeerde rigting. Maar toe die son deurbreek kies ons koers na Towerkop.

Die stap is ten dele op die kruin met ‘n pragtige uitsig in die valleie af aan weerskante. Teen eenuur sak ons in ‘n smal klofie af. Plek-plek maak digte plantegroei sake vir ons moeilik.

Skielik doem Towerkop voor ons op met sy vertikale oranje en grys wande.

Ons staan ‘n wyle in stilte, vasgevang in ‘n oomblik van verwondering.

Klipstapeltjies dui die pad so al op ‘n lys langs aan. Kort voor lank bereik ons ‘n klofie besaai met steenslag (scree). Dit verg besondere vernuftige stap om in die klofie op te kom maar, aan sy bopunt stap mens na links teen die krans, waar die Watergrot met sy lieflike koel water aantref word.

Dis oujaar, en ons drink water. Maar dis heerlik.

Na die klofie beweeg ons om Towerkop se Suidelike punt tot sowat 100 meter duskant Nel se Grot. Teen dié krans met sagte groen gras aan sy voet gaan ons die nag deurbring. Ons sou tog in die grot kon gaan skuil, indien dit reën.

Ons avontuur is byna oor. Die jaar is amper verby en ‘n botteltjie whiskey doen die rondte soos die laaste lig verdof - en skaars hoorbaar ver onder ons, Ladismith se klappers wat skiet.

Dag 5: ‘n Klip op ‘n klip op ‘n rots is ‘n baken, maar ‘n klip op ‘n rots? – dalk net toeval?

Eindelik is ons redelik seker dat ons die afgaan-paadjie gevind het. André het vooraf gewaarsku dat dit ‘n ses-uur-stap is, en dat mens jou nie moet verbeel jy’s nou-nou onder nie.

Die helling is aanvanklik steil en die paadjie swenk heen en weer tussen kort kransies deur. Na 2 uur se harde stap, sit ons voor Towerkop se skuiling en rus. Een derde van die dag se stap is agter die rug.

Die res van die pad neem ons ongeveer vier uur om af te lê. Net toe dit voel of die sigsag-paadjie nooit gaan einde kry nie, gly-gly ons af in die brandpad na waar die voertuie op Buffelskloof staan.

Die bome op die plaas bied welkome skaduwee. Ons sit op ‘n tapyt van dennenaalde en trek ons warm stapstewels uit. Wat ‘n avontuur het ons nie die afgelope vyf dae deurgemaak nie!

Maar nou is ons sat. Ons is seer. En ons is warm. Mnr Volschenk se plaasdam roep.

NS: My medestappers was André Schmidt (wat ook die staptog gelei het), Francois Spies, Pieter Voges, Francois Theron, Nico van Wyk, Theo Odendaal Snr en Theo Odendaal Jnr.

 

Coenraad Rall
Last modified onMonday, 08 February 2016 21:30